Jacob(us) Clemens non Papa | |
---|---|
Gebore | omstreeks 1510/15 |
Sterf | omstreeks 1555/56 |
Genres | Renaissance |
Beroep(e) | Komponis |
Jacob(us) Clemens non Papa (omstreeks 1510/1515 - omstreeks 1555/1556) was 'n Vlaamse komponis van Renaissance-musiek, wat veral in Vlaandere gebly het. Hy het baie musiek geskryf en is bekend vir die meerstemmige settings van die Psalms in die Nederlandse taal wat Souterliedekens genoem word.
Hy was moontlik gebore in Middelburg (Zeeland), maar niks is bekend oor sy vroeë lewe nie. Die eerste keer wat met sekerheid na hom verwys word is in die late jare 1530, toe Pierre Attaignant 'n versameling van sy chansons in Parys uitgegee het. Tussen Maart 1544 en Junie 1545 het hy as suksentor by die katedraal van Brugge gewerk. Hy het 'n saaklike verhouding met Tielman Susato aangegaan, wat 'n bekende uitgewer van musiek in Antwerpen was. Van 1545 tot 1549 was hy moontlik koormeester vir Filip II van Croÿ, die eerste hertog van Aarschot. In 1550 het hy in 's-Hertogenbosch vir die "Illustre Lieve Vrouwe Broederschap" gewerk. Daar is bewyse dat hy ook in Ieper en in Leiden gewerk het. Dordrecht is spekulatief.
Die bynaam non papa kan dalk na Pous Clemens VII verwys, wat in 1534 oorlede is, maar daar was ook 'n digter "Jacobus Papa" in Ieper. Die betekenis is daarom nie duidelik nie, maar die bynaam het die eeue oorleef. Ook oor Clemens se dood (1555 of 1556) is onsekerheid. In die teks van Jacobus Vaet Continuo lacrimas word in 'n "deplorasie" oor sy dood gesuggereer dat hy deur geweld gesterf het, maar die omstandighede word nie gegee nie. 'n Bron uit 1644 sê dat hy in Diksmuide by Ieper begrawe is.